’n Gesamentlike beloning van R5 000 word aangebied ná die ontdekking van ’n kritiek beseerde swart-en-wit pitbull-tipe teefhond wat vroeg vanoggend buite Woodrock Animal Rescue in die Hennopsriviervallei, in die landelike Pretoria-omgewing, aangetref is.
Die Nasionale Raad van DBV’s (NSPCA) en Woodrock Animal Rescue het bevestig dat die hond in ’n uiters swak toestand gevind is en ernstige beserings opgedoen het wat op langdurige lyding dui. Ten spyte van ’n onmiddellike ondersoek deur Woodrock se span, was haar toestand buite herstel en die moeilike besluit is geneem om haar lyding menslik te beëindig.
Die NSPCA ondersoek die voorval as ’n geval van vermoedelike hondegevegte, asook verlating en die versuim om veeartsenykundige hulp te verleen of te bekom. Hierdie optrede vorm kriminele oortredings ingevolge die Wet op Dierebeskerming 71 van 1962.
“Dit was nie ’n ongeluk nie en dit was nie onvermydelik nie,” het senior inspekteur Arno de Klerk, bestuurder van die NSPCA se Spesiale Projekte-eenheid, gesê. “Hierdie hond is herhaaldelik in die steek gelaat – deur geweld, verwaarlosing en verlating. Ons is daartoe verbind om die verantwoordelikes te identifiseer en te verseker dat hulle ten volle aanspreeklik gehou word.”
Lede van die publiek wat moontlik inligting het wat met hierdie saak verband hou, vermoedelik hondegeveg-aktiwiteite, of die identiteit van die betrokkenes, word versoek om na vore te kom. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Wenke kan per e-pos aan nspca@nspca.co.za gestuur word of telefonies by 011 907 3590 deurgegee word.
“Hondegevegte is georganiseerde, doelbewuste wreedheid en steun op geheimhouding en stilte,” sê de Klerk. Die NSPCA en Woodrock Animal Rescue doen ’n beroep op gemeenskappe om verdagte aktiwiteite aan te meld en te help verseker dat diegene wat vir hierdie misdaad verantwoordelik is, voor die gereg gebring word.






