WES-KAAP. – Lede van die Bergklub van Suid-Afrika se Bergsoek-en-reddingseenheid (MSAR) het ‘n ongewone reddingsoperasie by Boulderkloof in die Bainskloof-gebied gekoördineer nadat ‘n groep stappers deur ‘n aggressiewe swerm bye aangeval is.
Die Bergklub sê die stappers kon ná die aanval steeds beweeg, maar het dringend mediese hulp benodig. In plaas daarvan om ‘n helikopter of tegniese toustelsels in te span, is die reddingsoperasie op ‘n afstand gekoördineer. Reddingskoördineerders het die groep se bewegings gemonitor, hulle met afstandsnavigasie na die naaste toeganklike ontmoetingspunt gelei en gereël dat ‘n ambulans en die MSAR-span hulle daar inwag. Die stappers is veilig aan paramedici oorhandig toe die ambulans en reddingspan by die ontmoetingspunt aangekom het.
Volgens d Bergklub vereis reddingsoperasies in die berge nie altyd gespesialiseerde toerusting nie en kan dikwels deur vinnige kommunikasie, akkurate navigasie en goeie koördinering suksesvol afgehandel word.
Die organisasie moedig stappers aan om die Bergsoek-en-reddingseenheid se noodnommer op hul selfone te stoor voordat hulle die berge aandurf. Stappers word ook aangeraai om hul presiese GPS-ligging aan reddingskoördineerders te kan gee indien ‘n mediese noodgeval ontstaan, aangesien dit reddingspanne kan help om vinniger hulp te verleen.






