WES-KAAP. – ’n Vroulike brandbestryder (42) van CapeNature is Vrydagnag in die Stettynskloof-gebied tussen Franschhoek en Du Toitskloof beseer terwyl sy besig was om ‘n brand te bestry.
Volgens Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is ‘n ’n gesamentlike reddingsoperasie Saterdagoggend geloods. Die brandbestryder het ’n beenbesering opgedoen en was genoodsaak om oornag op die berg te bly, waar haar span by haar gebly het totdat hulp opgedaag het.
Met eerste lig het verskeie rolspelers die reddingsoperasie aangepak. Reddingspanne het die steil en moeilik toeganklike terrein te voet bereik, waar ’n paramedikus noodbehandeling op die toneel toegedien het. Die brandbestryder is daarna per helikopter na ’n landingsone vervoer en aan ambulansdienste oorhandig vir vervoer na ’n hospitaal. Die operasie is kort voor 11:00 Saterdag suksesvol afgehandel.





