VRYSTAAT. – ‘n Man (53) word daarvan beskuldig dat hy tydens ‘n besoek aan die Groenpunt Korrektiewe Sentrum verdowingsmiddels en verbode items probeer insmokkel het. Hy sal na verwagting op ‘n aanklag van dwelmbesit in die Sasolburg-landdroshof verskyn.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Josephine Rani, het beamptes van Deneysville-polsiekantoor Donderdag ‘n klagte ontvang oor ‘n besoeker wat na bewering verbode items na die fasiliteit wou insmokkel. Met aankoms by Hek 2 het beamptes saam met korrektiewe beamptes ‘n deeglike deursoeking gedoen. Tydens die aanvanklike deursoeking is twee selfone en laaiers gevind. Tydens ‘n meer indringende liggaamsdeursoeking is verdere items gevind: vermoedelik dagga, verskeie klein pakkies wat vermoedelik nyaope bevat, vermoedelik kristalmetamfetamien, nog selfone en laaiers, asook los sigarette.
Die verdagte is in hegtenis geneem en dienooreenkomstig aangekla.





