GAUTENG. – Mnr. Twala, ‘n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus van Bester EMS, is op 15 Julie dood toe hy in die uitvoering van sy pligte op pad na ‘n mediese noodgeval was.
Bester Emergency Medical Services beskryf Twala as ‘n toegewyde paramedikus wat met deernis, professionaliteit en onwrikbare toewyding sy gemeenskap gedien het. Volgens die nooddiens het hy altyd ander se belange eerste gestel en sy werk met trots verrig. Die organisasie sê Twala het sy lewe verloor terwyl hy gereageer het op ‘n oproep om iemand in nood te help. Sy nalatenskap sal volgens Bester EMS voortleef in die talle mense wie se lewens hy deur sy diens geraak het.
Bester EMS het sy innige meegevoel met Twala se familie, vriende en geliefdes uitgespreek en gesê die hele organisasie deel in hul hartseer. Die nooddiens het ook gevra dat mense vir Twala se kollega, Leletu, bid. Hy is ernstig beseer in dieselfde voorval en ontvang tans behandeling in ‘n hospitaal.
Volgens PE Express was die paramedici slagoffers van ‘n kop-aan-kop-botsing tussen Bester EMS se ambulans en ‘n Toyota-bakkie.





