President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners wat aan Dinsdag se beplande betogings teen ongedokumenteerde immigrasie gaan deelneem, gemaan om dit vreedsaam en binne die raamwerk van die Grondwet te doen. Hy sê inwoners se kommer oor onwettige immigrasie, grensbeheer en die druk op openbare dienste is geldig en die regering neem dit ernstig op.
Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê Ramaphosa beklemtoon dat die reg om te betoog nie geweld, intimidasie of vandalisme regverdig nie. Volgens die president is die regering reeds besig om grensbeheer te versterk, strenger teen ongedokumenteerde immigrante op te tree, die asiel- en visumstelsel te verbeter en korrupsie wat immigrasiebeheer ondermyn, aan te spreek. Ramaphosa waarsku dat niemand die reg in eie hande mag neem deur mense se dokumente te eis of hulle te intimideer nie. Hy sê wetstoepassing bly die verantwoordelikheid van die staat en geen vorm van vigilante optrede het ‘n plek in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie nie.
Hy sê die polisie is gereed om die regstaat te beskerm en sal optree teen enige misdadige gedrag, terwyl vreedsame betogers se regte steeds beskerm sal word.
Druk hier om meer te lees.





