Brekende Nuus
Nuus

Amptenare van binnelandse sake in hof oor beweerde paspoortbedrog

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – David Motsamai (35) en Lufu Mulaudzi (39), amptenare van binnelandse sake, het Dinsdag in die Germiston-landdroshof voorgekom nadat hulle glo Suid-Afrikaanse burgers se identiteitsbesonderhede gebruik het om paspoortaansoeke vir buitelandse burgers te verwerk.

Volgens Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, spruit die saak uit Projek Humulani, ’n ondersoek wat in 2021 begin het in verband met ’n ondersoek na beweerde bedrog met Suid-Afrikaanse paspoorte. Die beskuldigdes het by die departement se kantoor in Germiston gewerk en staan tereg op verskeie aanklagte van bedrog. Die staat beweer dat foto’s op die dokumente glo met dié van buitelandse burgers vervang sou word, sodat hulle Suid-Afrikaanse paspoorte onder valse voorwendsels kon bekom. Motsamai en Mulaudzi word daarvan beskuldig dat hulle saam met ander persone by die beweerde bedrog betrokke was. Sommige van die persone is volgens die NVG nog nie geïdentifiseer nie.

Die twee mans is elk op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak is vir oorplasing na die streekhof tot 26 Oktober uitgestel. Hulle staan ook tereg op alternatiewe aanklagte wat met beweerde oortredings van die immigrasiewet verband hou.