Binnelandse sake het ’n riglyn oor die ontvangs van asielsoekeraansoeke teruggetrek nadat vlugtelingontvangskantore binne enkele dae oorlaai is en kommer oor die veiligheid van amptenare en openbare orde ontstaan het. Die riglyn is op 28 September uitgereik ná die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Scalabrini-sentrum se saak.
Thulani Mavuso, binnelandse sake-woordvoerder, sê die direkteur-generaal het die riglyn as ’n operasionele maatreël uitgereik sonder die kennis of betrokkenheid van die minister of ander politieke ampsdraers. Hy ontken dat die besluit polities gemotiveer was en sê dit was bedoel om die hofbevel toe te pas.
Volgens die departement het die implementering egter tot onvoorsiene gevolge gelei. Ontvangskantore is oorlaai, amptenare is aan veiligheidsrisiko’s blootgestel en ernstige kommer oor openbare veiligheid en orde het ontstaan.
Binnelandse sake gaan nou ’n nuwe proses begin om ’n praktiese en volhoubare manier te bepaal om aan die Konstitusionele Hof se bevel te voldoen. Die departement sê hy respekteer die regbank en die oppergesag van die reg en bly verbind tot die uitvoering van die hof se uitspraak.
Druk hier om meer te lees.