GAUTENG. – Fredrick Pieter Jacobus Botha (44) van Vanderbijlpark is tot lewenslange direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord met voorbedagte rade op die boer Christian van Tonder.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die Pretoria-hooggeregshof het Botha ook tot 10 jaar direkte gevangenisstraf vir veediefstal, sewe jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en drie jaar vir die besit van ammunisie gevonnis. Die hof het gelas dat dié vonnisse gelyktydig met die lewenslange vonnis uitgedien word.
Van Tonder het 31 beeste op 29 November 2021 aan Botha verkoop. Nadat Botha die beeste in besit geneem het, het hy na bewering vir Van Tonder gevra om hom in Van Tonder se voertuig na ’n afgeleë gebied naby die Theoville-plase by Barrage te vergesel om die betaling vir die vee af te handel. Met aankoms op die plek het Botha vir Van Tonder, wat in sy bakkie gesit het, geskiet. Lede van die Barrage-buurtwag het later dieselfde dag die voertuig met Van Tonder se liggaam daarin ontdek en die voorval by die polisie aangemeld. Ná ’n uitgebreide ondersoek is Botha op 29 Augustus 2023 in hegtenis geneem.
Botha het tydens die verhoor onskuldig gepleit op al die aanklagte en enige betrokkenheid by die misdade ontken. Die staatsaanklaer, adv. Jeniffer Cronje, het egter getuienis aangebied wat sy skuld bo redelike twyfel bewys het. Tydens die vonnisverrigtinge het Botha se regsverteenwoordiger die hof versoek om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk. Daar is onder meer aangevoer dat vier permanente werknemers van hom afhanklik is en dat hy finansiële ondersteuning aan sy vrou, kinders, skoonma en pa bied. Cronje het die versoek teengestaan.
Die hof het met die staat se betoë saamgestem en bevind dat Botha geen berou getoon het nie en dat die moord ’n ernstige en blywende uitwerking op Van Tonder se familie gehad het. Die hof het verder bevind dat Botha nie die enigste broodwinner vir sy kinders was nie en dat hulle voldoende deur hul onderskeie moeders versorg word. Die hof het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat ’n ligter vonnis regverdig nie en Botha gevolglik tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.