NOORDWES. – Donovan Marx, wat op 28 Oktober ernstig beseer is in ’n plaasaanval in die Ventersdorp-omgewing, is tans in ’n stabiele toestand nadat hy ’n mediese terugslag ervaar het. Vier beskuldigdes wat na bewering by die aanval betrokke was, het Dinsdag (3 November) in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Geen borgtog is toegestaan nie en hulle bly in aanhouding.
Steyn du Toit Ing., die familie se aangewese mediaskakelpersoon, het in ’n verklaring namens Louise Marx en die familie gesê Donovan ontvang steeds intensiewe mediese sorg. Hy is aanvanklik ná noodchirurgie gestabiliseer, maar verdere ondersoeke en behandeling was nodig nadat hy ’n terugslag gehad het. Sy mediese span monitor hom deurlopend en sy herstelproses word as ingewikkeld en uitdagend beskryf.
Die vier beskuldigdes staan tereg op ses aanklagte wat onder meer roof, aanranding, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die onwettige rig van ’n vuurwapen insluit. Die saak is tot 13 November uitgestel vir verdere verrigtinge rakende borgtog.
Louise Marx en die familie het Suid-Afrikaners bedank vir die duisende boodskappe, gebede en ander ondersteuning wat hulle sedert die aanval ontvang het. Hulle het ook hul waardering uitgespreek teenoor die mediese personeel en polisiebeamptes wat by Donovan se versorging en die ondersoek betrokke is.
Die familie vra dat die publiek voortgaan om vir Donovan se herstel te bid en waarsku teen die verspreiding van ongeverifieerde inligting oor die ondersoek, die beskuldigdes of sy gesondheid.
Lees die volledige verklaring hier onder:
MEDIAVERKLARING
FAMILIE VAN DONOVAN MARX GEE TERUGVOER OOR HOFSAAK EN SY GESONDHEID – BEDANK SUID-AFRIKANERS VIR OORWELDIGENDE ONDERSTEUNING
Die familie van Donovan Marx, wat op 28 Oktober 2026 tydens ‘n wrede plaasaanval in die Ventersdorp-omgewing ernstig beseer is, spreek hul opregte dankbaarheid uit teenoor Suid-Afrikaners vir die buitengewone ondersteuning, gebede en boodskappe van bemoediging wat hulle sedert die voorval ontvang het.
Vier beskuldigdes het vandag, 3 November 2026, in die Ventersdorp-landdroshof verskyn het in verband met die aanval op Donovan.
TERUGVOER OOR DIE HOFVERRIGTINGE
Die vier beskuldigdes staan tans tereg op ses aanklagte wat onder meer verband hou met roof, aanranding, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, en die onwettige rig van ‘n vuurwapen.
Die saak is tot 13 November 2026 uitgestel vir verdere verrigtinge in verband met borgtog.
Geen borgtog is tydens vandag se hofverrigtinge toegestaan nie, en die vier beskuldigdes bly in aanhouding.
Die familie neem kennis van die verwikkelinge en vertrou dat die strafregtelike ondersoek en vervolging met die nodige erns, deeglikheid en omsigtigheid voortgesit sal word.
Hulle vertrou dat die strafregtelike proses uiteindelik tot geregtigheid sal lei.
DONOVAN SE GESONDHEIDSTOESTAND
Donovan ontvang steeds intensiewe mediese sorg nadat hy ernstige beserings tydens die aanval opgedoen het.
Hoewel hy aanvanklik ná noodchirurgie gestabiliseer is, het hy intussen ‘n mediese terugslag ervaar wat verdere ondersoeke en behandeling genoodsaak het.
Die familie bevestig dat Donovan tans in ‘n stabiele toestand is, maar dat sy herstelproses steeds ingewikkeld en uitdagend is.
Sy mediese span monitor sy toestand deurlopend en die familie is in gesprek met die betrokke mediese personeel oor sy verdere behandeling en herstel.
Louise en die familie bly hoopvol en vra dat Suid-Afrikaners sal voortgaan om vir Donovan se herstel, asook vir wysheid en leiding vir sy behandelende mediese span, te bid.
Familie oorweldig deur Suid-Afrikaners se ondersteuning
Die familie is diep geraak deur die geweldige ondersteuning wat hulle vanuit gemeenskappe regoor Suid-Afrika ontvang het.
Duisende boodskappe van medelye, bemoediging, gebede en praktiese ondersteuning het hulle gedurende hierdie besonder moeilike tyd bereik.
Hulle spreek hul besondere waardering uit teenoor die mediese personeel wat Donovan versorg, die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat by die ondersoek betrokke is, asook die talle individue en organisasies wat hulp en ondersteuning aangebied het.
Louise wil graag die volgende boodskap aan Suid-Afrikaners oordra:
“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is vir elke gebed, boodskap, oproep en gebaar van liefde wat ons ontvang het nie. Ons beleef tans ‘n ongelooflik moeilike tyd, maar die ondersteuning van soveel mense gee ons krag en moed om elke dag aan te pak.
Ons vra dat julle asseblief sal aanhou om vir Don te bid, veral vir sy herstel en vir die dokters wat belangrike besluite oor sy behandeling moet neem.
Ons vertrou op die Here vir krag, wysheid en genesing, en ons hou vas aan die hoop dat Don deur hierdie moeilike tyd sal kom.
Baie dankie aan elke Suid-Afrikaner wat saam met ons staan.”
‘n BEROEP OP DIE PUBLIEK
Die familie doen ‘n beroep op die publiek om die voortgesette strafregtelike proses te respekteer en nie ongeverifieerde inligting of bespiegelings oor die ondersoek, beskuldigdes of Donovan se gesondheid te versprei nie.
Die familie bly verbind tot die strewe na geregtigheid deur die toepaslike regsprosesse en spreek die hoop uit dat hierdie tragiese voorval opnuut aandag sal vestig op die ernstige gevolge van geweldsmisdaad vir slagoffers, hulle families en gemeenskappe.
Die familie se fokus bly tans op Donovan se herstel, die ondersteuning van Louise en hulle vertroue dat geregtigheid sy regmatige verloop sal neem.
Hulle bedank Suid-Afrikaners opnuut vir die liefde, omgee en gebede wat hulle in hierdie tyd dra.