Brekende Nuus
Nuus

Bomdreigement by King Phalo-lughawe: 184 passasiers veilig ontruim

Foto: King Phalo Internasionale Lughawe

OOS-KAAP. – Al 184 passasiers aan boord van ’n vliegtuig wat by King Phalo- internasionale lughawe geland het ná ’n bomdreigement, is veilig van die vliegtuig ontruim.

Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, het kort gelede (Woensdag) bevestig dat die vliegtuig ingevolge standaardveiligheidsprotokolle gehok gehou word terwyl veiligheidsowerhede die situasie ondersoek. Die polisie het ’n oproep van ’n onbekende persoon ontvang wat ’n privaat nommer gebruik het en beweer het dat daar ’n bom aan boord van die vliegtuig is. ’n Multidissiplinêre span is na die toneel ontbied en sluit die bomopruimingseenheid, honde-eenheid met springstofopsporingshonde, gyselaaronderhandelaars, rampbestuur, lughaweveiligheid en nooddienste in.

Die oorsprong van die dreigement word ondersoek. Die polisie het beklemtoon dat geen verdere inligting in hierdie stadium beskikbaar is nie en het die publiek versoek om nie te spekuleer nie.