Daar is iets aan boontjiesop en lamsvleis wat sinoniem is met winter. Ek het grootgeword in die Paarl, waar die winters nat en koud is – daardie tipe koue wat jy selfs binne-in die huis voel. My pa het die kaggel in die aande aangesteek sodat die televisiekamer warm raak en my ma het haar tradisionele boontjiesop gemaak, met die bone wat oornag moet week.
Ek, aan die ander kant, het absoluut geen geduld vir daardie tipe beplanning nie. Ek besluit op die dag wat ek wil maak – en dan maak ek ’n plan om dit te laat werk.
Gewapen met sakke hout van verskillende groottes om my kaggel aan die brand te hou, ’n hoop entoesiasme, my voorskoot en Checkers 60/60 om die res van die bestanddele aan te ry, het ek my missie aangepak: om die beste boontjiesop te maak. (Ek is nie juis bekend daarvoor om ooit die eenvoudige pad te kies nie en kook is beslis geen uitsondering nie.)
As jy kans sien, laat weet my hoe dit uitkom!
Bestanddele
- 1 pakkie suikerbone
- 6 groot wortels
- 1 groot ui
- 5 kort selderystingels
- gemengde kruie
- 1 Ina Paarman beesaftreksel (stock pot)
- 2 pakkies tamatiepasta
- 1 blik gekapte tamaties
- 3 vars tamaties, gekap
- 1 lamskenkel
- 4 stukke lamsnek (of wat jy ook al in jou yskas kry)
- knoffel (ek het seker so sewe huisies gebruik, swaar hand)
- olyfolie
- sout en swartpeper na smaak
- bietjie rooiwyn
Metode
1. Bone kook
Ek’t nie tyd vir week nie, so ek drukkook die suikerbone in net water vir 40 minute. Daarna spoel ek dit af en sit dit eenkant.
2. Sopbasis op die stoof
Braai die gekapte ui en knoffel in olyfolie. Voeg dan die seldery, vars tamaties, tamatiepasta, blik tamaties en wortels by. Meng die beesaftreksel met bietjie water en gooi dit ook in. Laat dit lekker prut. Ek het ook ‘n skeut rooiwyn ingegooi en ‘n paar druppels beesaftreksel. Nadat dit goed gekook het, het ek dit met ‘n elektriese handmenger in die pot fyngemaak dat dit ‘n gladde tekstuur het.
3. Vleis in die oond
Verhit jou oond tot 220°C. Sit die lamskenkel en -nek in ’n oondbak, bedruip met olyfolie en strooi gemengde kruie oor. Jy kan sout bysit, maar ek’t vergeet – en dit was nog steeds lekker. Ek het ook ’n bietjie van die sopmengsel en ’n bees stock pot met water bygesit vir ekstra geur. Rooster vir sowat 1 uur. Jy kan langer ook, tot die vleis sag is. Ek het net nie genoeg tyd gehad nie.
4. Vleis in die drukpot
Plaas die geroosterde vleis saam met van die sous in die drukpot. Kook vir 40 minute, pluis die vleis van die bene af en hou eenkant.
5. Alles bymekaar
Voeg die vleis en bone by die sopbasis, laat dit prut tot jy nie meer kan wag nie. Proe, geur en bedien met brood van jou keuse.
Om voor te sit
Om jou boontjiesop te geniet, sny ‘n lekker dik stuk vars suurdeegbrood met baie botter. Sout en peper. Glasie rooiwyn, kaggel en jy is good to go!
Idees vir wyn: oorweeg ‘n rooiwynversnit soos Bordeaux, iets redelik swaar. Jy kan kyk na ‘n Anthonij Rupert Optima of ‘n Le Chant Rouge.
Lees nog resepte hier.
- Jana Engelbrecht






Heerlik!