GAUTENG. – Janitha van Reenen Coetzee (25), wat daarvan beskuldig word dat sy die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit uit sowat R424 000 bedrieg het, se tweede poging om op borgtog vrygelaat te word, het in die Vanderbijlpark-landdroshof misluk.
Tshegofatso Makhudu, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigde, wat op 20 Mei in hegtenis geneem is, staan tereg op ‘n aanklag van bedrog. Sy het na bewering inwoners laat glo dat sy hulle kon help om afslag op uitstaande munisipale rekeninge te kry. Volgens die staat het slagoffers geld aan haar betaal sodat sy die munisipaliteit namens hulle kon betaal, maar die geld is glo nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Verder voer die staat aan dat Coetzee ook eise namens die slagoffers by die munisipaliteit ingedien het. Die munisipaliteit het na bewering sowat R424 000 aan haar uitbetaal, maar die geld het nooit die bedoelde begunstigdes bereik nie. Die beweerde bedrog is destyds deur Martha Mani Rantsofu, die munisipaliteit se voormalige finansiële hoof, blootgelê nadat sy verdagte eise opgemerk het. Rantsofu is op 30 Maart doodgeskiet.
Die NVG het die borgtogaansoek teengestaan en aangevoer dat Coetzee ‘n vlugrisiko is omdat haar woonadres nie behoorlik bevestig kon word nie. Die staat het ook aangevoer dat sy geen nuwe feite voor die hof gebring het wat nie reeds tydens haar vorige borgtogaansoek oorweeg is nie. Landdros Mamburu het met die staat saamgestem. Die hof het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sou wees om haar op borgtog vry te laat nie en het die aansoek van die hand gewys.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 23 Julie uitgestel.
Volgens beriggewing van MDN News word Rantsofu se dood deur die politieke moorde-taakspan ondersoek en kan Coetzee dalk inligting daaroor hê. Die saak is ook glo aan ongerymdhede van ‘n “spookvloot-saak” van sowat R16 miljoen verbind.





