SALDANHABAAI. – Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DBVO) waarsku die publiek om tot verdere kennisgewing geen wilde skulpvis uit Saldanhabaai en die omliggende kusgebiede te versamel of te eet nie.
Luidens ’n verslag uitgereik deur die departement is ‘n monitering op 25 Mei 2026 gedoen wat kommerwekkende hoë gifstofvlakke getoon het. Baie hoë vlakke van verlammende skulpvis-gifstowwe (PST) is in mossels en oesters by die Saldanhabaai-plase opgespoor. Luidens die verslag is die aangetekende gifstofvlakke meer as 15 keer hoër as die wetlike veiligheidsperk. Hoë konsentrasies van gifstof-produserende skadelike algebloei is ook aangedui.
Daarvolgens is die produksiegebiede in Saldanhabaai gesluit vir oes vir menslike verbruik. Tans is dit nog onduidelik hoe wydverspreid hierdie risiko langs die Weskus is. Gifstofvlakke kan tussen verskillende gebiede verskil.
Die departement raai die publiek ten sterkste aan om tot verdere kennisgewing die oes en eet van enige wilde skulpvis uit Saldanhabaai en die omliggende kusgebiede te vermy.
Inname van besmette skulpvis (bv. mossels) kan ernstige toestande soos verlammende skulpvisvergiftiging veroorsaak. Die erns daarvan word benadruk, aangesien dit lewensgevaarlik kan wees.
Bron: Die departement van bosbou, visserye en die omgewing





