GAUTENG. – Personeel van Tshwane-nooddienste het hulle Maandagoggend na ’n brand by die Melgisedek-gebou in Rietfontein gehaas. Die brandweer het omstreeks 07:30 ‘n oproep vir hulp deur die noodoproepsentrum ontvang. Hulpbronne van die Innesdale-, Hatfield- en Pretoria-Sentraal-brandweerstasies is na die toneel ontplooi.
Nana Radebe-Kgiba, Tshwane se nooddienste-woordvoerder, sê in ‘n verklaring met aankoms het brandweermanne gevind dat die derde vloer van die gebou in vlamme was en die dak ineengestort het. Volgens voorlopige assesserings is ongeveer 21 kamers deur die brand geraak. Die inwoners van die gebou kon veilig ontruim word voordat die brand versprei het. Twee persone is vir rookinaseming behandel en na ’n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer.
Brandbestryders is tans nog besig op die toneel om verdere strukturele skade te keer en omliggende geboue te beskerm. Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Voorlopige ondersoeke sal plaasvind sodra die brandbestryders se werk voltooi is.
Die Melgisedek‑gebou is ’n verlate en ernstig verwaarloosde woonstelkompleks wat deur die Stad Tshwane reeds in 2015 as onveilig en onbewoonbaar verklaar is, maar steeds onwettig deur mense bewoon word en in verval verkeer. Die gebou is geassosieer met ernstige strukturele verval en sanitêre probleme, misdaad, dwelmgebruik, swak sanitasie en ‘n gebrek aan basiese dienste. Die Stad het vroeër planne beraam om die inwoners na alternatiewe huisvesting te verskuif. Daar is ook besprekings oor die moontlike herontwikkeling van die eiendom, byvoorbeeld vir studente‑behuising, maar tot dusver het hierdie planne nie gerealiseer nie.
Die Tshwane-nooddienste doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te wees en onmiddellik enige brand of noodgeval by 107 (tolvry) of 012 358 6300/6400 aan te meld.
Bronne: City of Tshwane Emergency Services Department, The Star, Joburg Etc., The Citizen





