WES-KAAP. – Brandbestrydingspanne het gedurende die nag voortgegaan om brande langs die R301 en in die Wemmershoek-gebied naby Franschhoek te monitor en te bestry, met die fokus op die beskerming van strukture en omliggende plase.
Luidens ‘n verklaring van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se branddienste brand dit steeds hoog teen die berghellings in die Wemmershoek-gebied nadat dit Woensdag in die Langrug-gebied begin brand het. Die vuur het vinnig versprei en plase langs die Wemmershoekpad (R301) bedreig, waarna lughulp en erkende brandbestrydingstegnieke, insluitend teenbrande, ingespan is.
Die brand het een struktuur verwoes, ’n ander beskadig en ’n trekker vernietig, maar geen beserings is aangemeld nie. ’n Verkenningsvlug sou vanoggend (Sondag) uitgevoer word om die omvang van die brand en die dag se operasionele plan te bepaal.
Intussen het die Drakenstein-munisipaliteit se brand-en-reddingsdienste luidens ‘n verklaring bevestig dat die R301-gebied deur die nag gemonitor is, met enkele opvlammings wat dadelik onder beheer gebring is. Verkeersdienste en wetstoepassing bly op bystand indien verdere bystand nodig sou wees.





