Brig. Dineo Mokwele (31) het Maandagaand die Integrity Under Fire Special Award tydens die 2026-fluitjieblaser-toekenningsgeleentheid ontvang. Die toekenning kom ná uitdagings in haar loopbaan, waaronder haar inhegtenisneming saam met ander senior polisiebeamptes en vrae oor haar aanstelling.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoeder, sê genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het Mokwele gelukgewens met die erkenning vir haar moed, integriteit en professionele optrede te midde van uitdagings in die organisasie.
Mokwele is in 2024 tot die rang van brigadier bevorder en is dieselfde jaar as hoof van die afdeling vir tegniese ondersteuningsdienste in die polisie se misdaadintelligensie-afdeling aangestel. Sy het tegniese spanne gelei en toesig gehou oor werkswinkels, infrastruktuur en prosesse wat intelligensie-insameling en operasionele werk ondersteun. Sy dien tans as waarnemende hoof van die afdeling vir misdaadstelselinfrastruktuurbestuur binne tegnologiebestuursdienste, waar sy tegnologieprojekte bestuur en samewerking tussen belanghebbendes koördineer om misdaadstelsels se betroubaarheid, integrasie en modernisering te verbeter.
Mokwele het ’n meestersgraad in bedryfsadministrasie (MBA), ’n BTech-graad in bedryfsingenieurswese en ’n nasionale diploma in megatronika-ingenieurswese. Haar loopbaan sluit ook werk in die private sektor, onder meer by BMW Suid-Afrika, in. Masemola sê haar volgehoue professionaliteit en toewyding ondanks hierdie uitdagings verdien erkenning.