Brig. Rachel Matjeng, afdelingshoof van gehaltebestuur vir misdaadrekord- en misdaadtoneelhantering by die polisie se forensiesedienste-afdeling in Pretoria, is sedert Dinsdag, ná die afhandeling van ‘n interne tugproses deur die polisie, ontslaan. Dit hou verband met haar verhouding met Cat Matlala.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Matjeng is skuldig bevind aan verskeie ernstige oortredings wat verband hou met haar verhouding met die beweerde onderwêreldfiguur Cat Matlala. Die aanklagte sluit onder meer die aanvaarding van onbehoorlike voordeel, geldwassery, oneerlikheid en optrede wat die belange van die polisie benadeel het, in. Volgens die polisie het sy Matlala glo van raad voorsien wat teen die belange van die polisiediens was en ‘n lys met besonderhede van polisiebeamptes aan hom verskaf met die doel om finansiële voordeel daaruit te trek.
Die waarnemende nasionale kommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, sê die uitslag stuur ‘n duidelike boodskap dat korrupsie, misdadigheid en enige samewerking met misdadigers nie binne die polisie geduld sal word nie.





