KWAZULU-NATAL. – Elaine McSorley (71), ‘n Britse vrou, word al meer as ‘n week lank vermis, nadat sy op 27 September op ‘n staproete in die Ghost Mountain, Mkuze-gebied, spoorloos verdwyn het.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê toe die bejaarde nie terugkeer van die staptog nie, het haar metgesel die hotel en owerhede in kennis gestel. Sedert Donderdag is ’n uitgebreide soektog geloods wat reeds ses dae geduur het. IPSS Search & Rescue, die polisie se K9-eenhede van Vryheid en Empangeni, asook die Mkhuze-polisie is betrokke. Hommeltuie, helikopters, ’n vastevlerkvliegtuig en honderde persone is vir die soektog ingespan. Selfs die plaaslike gemeenskap, gemeenskapspolisiëringsforum, veiligheidsmaatskappye en personeel van omliggende wildreservate het aan die soektog deelgeneem. Tog is daar steeds geen spoor van die vrou nie.
Volgens die polisie sal die ondersoek voortgaan in die hoop om die soekgebied verder te kan vernou en die vermiste persoon op te spoor. Die soekspanne het intussen dank uitgespreek teenoor Ghost Mountain Inn en Mkhuze Superspar vir hul ondersteuning.