Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vereis vanaf 1 Junie 2026 dat alle buitelandse geregistreerde voertuie vooraf op sy Traveller Management System (TMS) verklaar word. Die registrasie moet gedoen word voordat die voertuie Suid-Afrika binnekom of verlaat.
Dr. Johnstone Makhubu, SAID-kommissaris, sê die stap bring Suid-Afrika in lyn met internasionale doeanestandaarde en vorm deel van die SAID se breër moderniseringsprogram by grensposte. Volgens hom sal dit beter risikogebaseerde keuring moontlik maak, samewerking met ander owerhede versterk en die reisigerervaring verbeter, terwyl dit ook bydra tot finansiële deursigtigheid en nasionale veiligheid.
Waar buitelandse voertuie tydelik ingevoer word, kan ’n permit vir tot ses maande uitgereik word. Mits dit betyds hernu word, kan hierdie permit gebruik word om die grens meervoudig oor te steek, sonder dat daar elke keer weer aansoek gedoen hoef te word. Gereelde reis vir werk, studie, besigheid of mediese redes raak nie die geldigheid van die permit nie.
Die SAID moedig reisigers aan om hul voertuie vooraf aanlyn te verklaar om vinniger verwerking by grensposte te verseker. Amptenare sal beskikbaar wees om dié te help wat nie die proses vooraf voltooi het nie. Fisiese grensbeheer bly steeds van krag en alle reisigers moet hulself vir verifikasie en inspeksie aanbied. Makhubu waarsku dat nie-nakoming, of die verskaffing van vals of onvolledige inligting, tot strawwe optrede en vertragings kan lei. Hy beklemtoon dat ’n gladde proses afhang van volle nakoming van die vereistes.
Druk hier om meer te lees.




