Carlton Cup-halfeindstryd: TUKS klop Centurion vir plek in eindstryd

Lees ook :

Carlton Cup Halfeinstryd TUKS klop Centurion vir plek in eindstryd
Carlton Cup Halfeinstryd: TUKS klop Centurion vir 'n plek in die eindstryd. Fotokrediet: Louise Esterhuizen (Lulu's Sport Pics)

Saterdag 22 Augustus was D-dag vir die halfeindwedstryde in die Sanlam Carlton Cup. Die Carlton Cup is die Blou Bul-rugbyunie (BBRU) se vertoonvenster vir hul klubrugbytalent. TUKS het hul staal gewys en Centurion in ‘n pragwedstryd gewen.

Geskiedenis van die BBRU Carlton Cup

Ongeveer 120 jaar gelede het daar ’n onbekende trofee op die rak van ’n plaaslike kroeg in Pretoria gestaan. Die spelers het die kroegeienaar gevra of hulle daarvoor kon meeding. Hy het ingestem en in 1904 is die trofee na die kroeg, Carlton, vernoem. In 1938 breek die Noord-Transvaalse rugbyunie weg van die Transvaal-rugbyunie en word die Carlton Cup gebore.

TUKS druk sewe drieë in hul halfeindstryd teen Centurion. Fotokrediet: Louise Esterhuizen (Lulu's Sport Pics)
Fotokrediet: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics)

TUKS kry oorhand oor Centurion

Centurion, wat laasjaar in die finaal gespeel het, het gehoop om weer hierdie jaar so te maak. Hulle het immers tuisveldvoordeel gehad.  TUKS het laasjaar in die halffinaal teen Grizzlies vasgeval en sou alles in die stryd werp om hierdie jaar die finaal te haal.

Saterdag se wedstryd in Centurion was sonder twyfel ’n vertoonvenster van die talent in die BBRU. ’n Brutale voorrystryd en ’n see van drieë het vir ’n aanskoulike wedstryd gesorg. TUKS het teen rustyd reeds vyf drieë gedruk en het 35-14 voorgeloop. Ná rustyd het Centurion goed teruggeveg, maar moes ongelukkig die knie teen hulle teenstanders buig. ‘n Finale telling van 46-35 in die guns van TUKS was op die finale telkaart.

Fotokrediet: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics)

Fokus op die finaal

TUKS speel vir die eerste keer sedert 2018 in die Carlton Cup-finaal. Alhoewel hulle al 25 keer die beker omhoog gehou het, het hulle dit laas in 2015 vermag. Hierdie studentespan sal graag weer die TUKS-gloriedae wil terugbring. Hulle kom in die finaal op 5 September te staan teen NAKA Bulle.

In die ander halffinaal het die verdedigende kampioen, NAKA Bulle, die span van Harlequins ’n behoorlike loesing gegee. Die eindtelling was 75-35 in NAKA se guns. NAKA Bulle, wat die beker al die laaste drie jaar huisves, gaan moeilik gestuit word.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief