Atletiek Gauteng-Noord maak gereed vir ASA-veldloopkampioenskappe

Lees ook :

Atletiek Gauteng Noord maak gereed vir ASA Veldloopkampioenskappe
Voorlopers in die Senior Mans 4km wedloop. Foto krediet: Louise Esterhuizen (Lulu's Sport Pics)

Curro Hazeldean sal die gasheer wees vir die ASA Nasionale Veldloopkampioenskappe op 5 September 2026. Atletiek Gauteng-Noord (AGN) het reeds ‘n toetslopie vir die kampioenskappe gehad toe hulle op 15 Augustus hul provinsiale kampioenskappe suksesvol daar aangebied het.

AGN sal graag hul buurprovinsie op eie bodem wil onttroon. Sentraal-Gauteng Atletiek het laasjaar bo-aan die provinsiale medaljetabel geëindig.

Voorlopige span bekend gemaak

Die voorlopige AGN-span is Vrydag 21 Augustus aangekondig. Deelname aan die AGN-kampioenskap was een van die voorvereistes vir atlete om vir die provinsiale span in ag geneem te word.

Atlete van 8 jaar tot 85 jaar het deelgeneem aan die provinsiale kampioenskap by Curro Hazeldean. Wedloopafstande het gewissel van 1 km vir die agtjariges tot 10 km vir die senior mans en vrouens.

Uithalerkampioenskapvertonings

Karabo More (Boxer Atletiekklub) het ‘n uithalervertoning gelewer in die 4 km vir senior vroue. More is nie net die 2025 senior vroue se 4 km-landloopkampioen nie, maar ook die heersende Suid-Afrikaanse en Afrika-1500 m-kampioen, asook 2026-mylkampioen. Sy het Suid-Afrika ook onlangs by die Statebondspele in Glasgow verteenwoordig.

Karabo More: Verdedigende 4 km senior vrouekampioen. Fotokrediet: Louise Esterhuizen (Lulu’s Sport Pics).

Ná haar oorwinning in die 4 km-wedloop het More kort daarna ook die 2 km-naelloop gewen.

In die senior mans se 4 km-wedloop het Thapelo Ramokhoase van Masai Athletics Club die goue medalje verower. Musawenkosi Mnisi van Boxer AC het in die o.23-mans se 4 km-wedloop geseëvier.

Sport vir die hele gesin

Landloop is een van die min sportsoorte waaraan die hele gesin kan deelneem. Die Stolz-gesin van Pretoria is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Nie net neem Leon sr. en sy twee kinders, Leon jr. en Bianca deel nie, hulle ryg die medaljes in!

  • Leon Senior – 2de plek (8 km in ouderdomsgroep)
  • Leon Junior – 1ste plek (8 km vir o.20-mans)
    • – 1ste plek (2 km vir o.20-mans)
  • Bianca – 4de plek (4 km vir o.17-dogters)
    • – 1 ste plek (2 km vir jeug dogters)

Leon jr. is nie ‘n vreemdeling op die podium nie. Hy is die 2026-AGN-kampioen in 5 km, asook die heersende AGN- en SA-halfmarathonkampioen.

Alle oë gerig op nasionale glorie

Met die nasionale kampioenskappe minder as twee weke weg, is atlete hard besig met hul laaste voorbereidings. AGN is bekend daarvoor dat hulle die grootste span jaarliks na die nasionale kampioenskappe stuur. Atlete sal graag op tuisbodem wil presteer om moontlik die provinsiale troon by Curro Hazeldean op 5 September te betree.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief