VRYSTAAT. – ’n 36-jarige vrou is by die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein in hegtenis geneem, nadat 232 voorwerpe, vermoedelik rocks of crack-kokaïen, in ’n haarkapperspop se kop gevind is.
Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, is beamptes van sigbare polisiëring, wat vir misdaadvoorkoming by die lughawe verantwoordelik is, Saterdag omstreeks 11:30 deur ’n toesighouer van die lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) ontbied, nadat verdagte materiaal deur ’n skandeermasjien opgespoor is. ‘n 36-jarige vrou, met ‘n haarkapperspop se kop, was op die punt om op ’n vlug na Johannesburg te vertrek.
Kenners van die plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS) is ook ontbied. Die pop se kop is oopgemaak en skuim en ander materiaal is uitgehaal. Altesaam 232 versteekte voorwerpe wat soos klippe lyk en vermoedelik rocks of crack-kokaïen is, is in die teenwoordigheid van die verdagte getel. Die polisie skat die dwelms se straatwaarde op R300 000. R93 220 in kontant is ook in die vrou se besit gevind. ‘n Saak is by Navalsig-polisiekantoor geregistreer wat deur die Valke ondersoek sal word.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.





