PARYS. – Céline Dion (58) het Saterdag haar langverwagte terugkeer na die verhoog gemaak, met haar eerste volwaardige konsert in meer as ses jaar.
Volgens Dion se webtuiste het die Kanadese sangeres voor ’n uitverkoopte skare van sowat 35 000 mense in die Plenitude-arena naby Parys opgetree. Die konsert was die eerste van haar nuwe reeks optredes wat tot Mei 2027 duur.
Dion het emosioneel geraak toe sy die verhoog betree het, maar het deur die vertoning verskeie van haar grootste treffers, asook Franse liedjies, gesing. Sy het ook die operastuk La Wally uitgevoer. Die terugkeer volg nadat Dion haar loopbaan weens stiff-person syndrome, ’n seldsame neurologiese toestand, moes onderbreek. Sy het wel in 2024 tydens die Olimpiese Spele in Parys opgetree, maar Saterdag se vertoning was haar eerste volledige konsert sedert 2020.
Dion het aan die gehoor gesê sy het belowe om terug te keer na die verhoog en dat sy nou daar is om vir hulle én vir haarself te sing.
Bronne: Céline Dion, The Guardian