Die oud-Amerikaanse president Bill Clinton en sy vrou, Hillary Clinton, die voormalige minister van buitelandse sake, het ingestem om te getuig in die kongresondersoek na die oorlede seksmisdadiger Jeffrey Epstein.
Dit volg slegs dae voor ’n stemming sou plaasvind oor of die egpaar strafregtelik vir minagting van die kongres aangekla moet word nadat hulle, ná ’n maande lange dooiepunt, geweier het om voor die toesigkomitee van die huis van verteenwoordigers te verskyn.
Bill Clinton het Epstein geken, wat in 2019 in die tronk gesterf het, maar hy ontken dat hy enige kennis van Epstein se seksuele misdrywe gehad het en sê hy het sowat twee dekades gelede alle kontak met hom verbreek. Hillary Clinton sê sy het hom nooit ontmoet nie.
Dit is nog onduidelik wanneer die verklarings onder eed sal plaasvind, maar dit sal die eerste keer wees dat ’n voormalige Amerikaanse president sedert Gerald Ford in 1983 voor ’n kongreskomitee getuig. Skuldigbevinding vir minagting van die kongres kan tot ‘n jaar gevangenisstraf of groot boetes lei.
Bronne: BBC, SkyNews





