KWAZULU-NATAL. – ‘n Geldwa is Maandagaand op die N2 noord, naby Chesterville, net buite Durban se middestad, beroof. ‘n Veiligheidswag het weens die ontploffing geringe tot matige beserings opgedoen. Lede van die publiek het geld opgetel wat in die pad beland het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het omstreeks 19:00 verskeie oproepe om mediese hulp ontvang. Met aankoms op die toneel, nadat die polisie dit veilig verklaar het, het honderde lede van die publiek glo geld opgetel wat in die pad gelê het. Die polisie het die skare vinnig uitmekaargejaag, waarna paramedici na twee veiligheidswagte geneem is wat ten tyde van die roof in die voertuig was. Een het beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici behandel.
Die N2 is deur die polisie en metropolisie afgesper om ondersoeke te doen. Die transitorooftog word verder deur die polisie ondersoek.






