Die mededingingskommissie het aanbeveel dat die mededingingstribunaal die voorgestelde verkryging van Coca-Cola Beverages Africa (CCBA) deur Coca-Cola HBC AG en Coca-Cola HBC Holdings goedkeur, mits verskeie openbare belang-voorwaardes nagekom word. Die verkrygende maatskappye, Coca-Cola HBC AG is van Switserland en Coca-Cola HBC Holdings B.V. van Nederland.
Woordvoerder Siyabulela Makunga sê die kommissie is van mening dat die transaksie waarskynlik nie mededinging in enige mark wesenlik sal beperk of voorkom nie. Die samesmeltende partye het onder meer ingestem dat geen werknemers in Suid-Afrika as gevolg van die transaksie afgelê sal word nie. Daar is ook onderneem om die maatskappy se swart ekonomiese bemagtiging en werknemersaandeelhouding te handhaaf, aankope by bemagtigde verskaffers en klein ondernemings voort te sit en verder in Suid-Afrika te belê.
Die voorwaardes bepaal verder dat Coca-Cola Beverages Africa se hoofkantoor in Suid-Afrika moet bly en dat Coca-Cola HBC AG, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring, ‘n sekondêre notering op die Johannesburgse Effektebeurs sal nastreef.
Druk hier om meer te lees.





