WES-KAAP. – Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het vroeër vandag aangekondig dat die party, indien dit ná die verkiesing aan bewind bly, Suid-Afrika se eerste metropolisie-speurafdeling in Kaapstad sal stig. Hierdie speurders sal geweldsmisdaad, bendebedrywighede, vuurwapen- en dwelmsake ondersoek.
Hill-Lewis het die aankondiging tydens die DA se Stronger Policing Pledge-optog in Delft gemaak. Hy het gesê daar is tans byna 200 vakante speurdersposte by Kaapstad-polisiekantore, wat volgens hom daartoe lei dat ernstige misdade nie behoorlik ondersoek word nie en slagoffers lank op geregtigheid moet wag. Hy het aangevoer dat die Stad Kaapstad al verskeie kere die nasionale regering versoek het om ondersoekbevoegdhede aan die metropolisie toe te ken, maar dat dié versoeke nie suksesvol was nie.
Volgens Hill-Lewis sal die voorgestelde speurafdeling toegewyde ondersoekbeamptes werf en oplei om dossiere saam te stel, getuienis in te samel en ondersoeke te doen wat tot suksesvolle vervolgings kan lei. Hy het gesê die DA sal, indien nodig, ook regsoptrede oorweeg om groter ondersoekbevoegdhede vir Kaapstad se metropolisie af te dwing.
Hill-Lewis meen gemeenskappe behoort nie in vrees te leef nie en sê die doel is om te verseker dat misdadigers geïdentifiseer, vervolg en uit die gemeenskap verwyder word.
Kyk na die hele toespraak deur verskeie belanghebbendes hier onder:





