Die DA gaan vandag (Vrydag) ’n dringende toesigbesoek aan die Hammarsdale-hof bring, ná ’n voorval waarin ’n vrou na bewering in die hofgebou deur ’n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, doodgeskiet is. Die beampte het daarna glo die vuurwapen op homself gerig.
Mzamo Billy, DA-lid van die nasionale raad van provinsies (NRP) se gekose komitee oor veiligheid en justisie, sê hy wil ondersoek instel na bewerings dat die hofbestuur herhaaldelik gewaarsku is oor veiligheidsrisiko’s by die gebou. Hy wil ook vasstel hoe ’n vuurwapen by die hof ingebring kon word en of die veiligheidsondersoektoerusting en -prosedures behoorlik funksioneer.
Billy sê daar is ook ’n bewering dat ’n ander moord onlangs binne die hofgebou plaasgevind het, maar dat dit nie openbaar gemaak is nie. Hy sê dié bewering moet dringend nagegaan word en dat hy ná die besoek die veiligheidskwessies by die minister van justisie sal aanmeld.
Hy wil toegang tot kringtelevisiebeeldmateriaal, veiligheidsrekords, klagtes en voorvalverslae kry en toesien dat die materiaal bewaar word. Hy sal ook vasstel of die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oor die voorval ingelig is. Billy vra vir ’n onafhanklike ondersoek na die skietvoorval, die hof se sekuriteit en die beweerde voorafwaarskuwings.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê Donderdag die diens is kort ná 11:30 na die toneel ontbied waar ‘n man en vrou met skiewonde aan hulle koppe aangetref is. Die vrou is op die toneel dood verklaar. Die man was kritiek beseer en is deur ‘n gevorderde lewensondersteunende paramedikus behandel, waarna hy met ‘n ambulans na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas is.