GAUTENG. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het die koelbloedige moord op Michael Swanton, ‘n lugmagsersant, in die Mabopane-hoofweg in die gebied van die Madibeng- plaaslike munispaliteit, sterk veroordeel en medelye teenoor die familie en geliefdes uitgespreek.
Luidens ‘n verklaring deur Lisa Schickerling, DA-LP en woordvoerder van polisiedienste, het ’n ongemerkte voertuig met ’n enkele blou lig sers. Swanton glo gestop voordat hy skielik geskiet is. Die betrokkenes was lyfwagte van Douglas Maimane, die burgemeester van Madibeng. Volgens d DA was die voertuig nie amptelik gemerk nie en was die gewapende lyfwagte in privaatdrag geklee.
Die DA sê die voorval lê klem op die gevaarlike kultuur rondom die sogenaamde “bloulig-beskermerbrigade”, waar lyfwagte met min toesig optree en onskuldige lewens in gevaar stel. Die party eis ’n deursigtige en vinnige ondersoek, dat die verantwoordelikes volgens die wet vervolg word, en dat BBP-beskermingsbeleid dringend hersien word om misbruik van mag te voorkom en openbare veiligheid voor politieke voorregte te stel.
Schickerling sê: “Geen amptenaar of hul veiligheidsdiens is bo die wet nie. Suid-Afrikaners verdien leierskap wat die reg handhaaf, nie gewapende konvooie wat soos onaantasbare elite optree nie.”
Nuusflits het kommentaar van die polisie en Madibeng-munispaliteit gevra.





