WES-KAAP. – Moet jy by ‘n werksonderhoud uitkom, maar het net nie die geld daarvoor nie? Die Wes-Kaap het ‘n program bekend gestel wat nou ook in George verwelkom is om werklose inwoners in staat te stel om op weeksdae met die GoGeorge-busdiens met ‘n werksoekvervoerbewys by ‘n onderhoud uit te kom, CV’s af te lewer en werk te soek.
Die DA in die Wes-Kaap het die uitbreiding van die Wes-Kaapse regering se Getting YOU to Work-werksoekvervoerprogram na George verwelkom. DA-woordvoerder oor mobiliteit in die Wes-Kaap, prof. Nomafrench Mbombo, sê die program is geskep om die finansiële las van vervoerkoste vir werksoekers te verlig. Sy moedig alle kwalifiserende werklose inwoners in George aan om van die geleentheid gebruik te maak, aangesien elke onderhoud en elke werksaansoek hulle nader aan moontlike indiensneming bring.
Die program is in Februarie 2024 in Kaapstad bekend gestel en het sedertdien meer as 24 000 werksoekers gehelp om werksgeleenthede na te streef. Volgens die DA is vervoerkoste dikwels ‘n struikelblok wat mense verhinder om onderhoude by te woon of werk te soek.
Die party sê die uitbreiding van die program na George sal meer inwoners toegang gee tot ekonomiese geleenthede en vorm deel van die Wes-Kaapse regering se pogings om werk te skep en hindernisse tot indiensneming uit die weg te ruim.





