Ouervervreemdingsindroom is ‘n nuwe term wat nou wettig in Suid-Afrika erken word.
Dit is ‘n sindroom wat voorkom wanneer een ouer ‘n ander ouer tydens ‘n egskeiding van ‘n kind vervreem. Die mooi herinneringe wat die kind van die vervreemde ouer het, word as t’ ware “uitgewis” en die kind het dan slegte herinneringe.
“Ek onthou nog die herfsoggend in Maart 2002. Die dag sal ek nooit kan vergeet nie. Dit was die dag wat my pragtige dogter gebore is. Klein lyfie met die mooiste blou ogies. Soos enige pa was dit onmoontlik om my trots weg te steek. Ek was geseënd met die mooiste en die beste. Die eerste twee jaar van haar lewe kon ek haar vasdruk en soentjies gee.
“Dinge het egter daarna skielik ‘n wending geneem wat my lewe vir altyd sou verander. My dogter se mamma het besluit dat sy nie meer by my wil wees nie. Sy het ons dogter soos ‘n oorlashondjie weggestuur om by haar oupa en ouma te gaan bly. Ek het verhuis en binne drie maande het ek ‘n brief in die pos ontvang dat ek in die hof moes wees. In die hof is daar onware uitlatings gemaak, soos dat ek my dogtertjie en haar ma aangerand het. Later was daar ook aantygings gemaak dat ek my kind gemolesteer het.
“Die uitslag het veroorsaak dat ek nie meer my dogtertjie kon sien nie. Daar is ‘n hofbevel teen my uitgereik wat steeds geldig is. Die hof het my verbied om naby hulle huis te kom. Daar was wel ‘n vergunning dat ek my dogter elke Woensdag en Saterdag kon bel. Die reëling het vir die eerste ses maande goed gegaan. Ek kon gereeld met my dogter praat, maar ek kon haar nie sien nie. Op haar vierde verjaardag het ek haar gebel en sy het my gevra hoekom ek in die tronk is. Dit het my woedend gemaak, want hulle het haar vertel dat haar pa in die tronk was. Toe ek daaroor uitvra, het haar ma net gesê sy het nie beheer oor wat haar oupa en ouma vir haar leer nie.
“Ek het later weer ‘n prokureursbrief ontvang wat my ‘n besoek toegestaan het. Ek het nie toe vervoer gehad nie en moes ryloop, maar kon nie betyds by die prokureur uitkom nie. Ná ‘n gesmeek is daar ingestem dat ek my kind by die Spur kon sien. Ek sal nooit in my lewe vergeet hoe sy in die gang af gehardloop het met haar armpies in die lug en my geroep het nie – “Dadda, Dadda!”. Die besoek het omtrent ‘n uur, dalk twee, geduur.
“Ná hierdie besoek het ek haar nie weer gesien nie. Ek het voortgegaan met die telefoonoproepe, maar dit het al moeiliker geraak om haar in die hande te kry. Elke keer as ek gebel het, het hulle gesê sy is óf dorp toe saam met haar ma óf sy slaap. Deur die hofbevel was ek verhoed om haar op ander tye te kontak. Na ‘n verloop van tyd het die foon net gelui en daar was nie antwoord nie. Later is die foon ook uitgehaal en ek het geen kontaknommer gehad nie, behalwe die ouma se werknommer. Ek het gereeld na die werk toe gebel en gesmeek om ‘n nommer te kry waar ek my kind kon bel, maar ek is elke keer vertel dat haar ma nie dink dat dit ‘n goeie idee was nie. Die ouma het later ook haar werk gelos en hulle het getrek. Ek het nie geweet waar my dogter was nie. Ek het haar vir jare gesoek.
“In Desember 2017 het my vrou op ‘n foto afgekom wat op Facebook gelaai was. Dit was ‘n foto van my dogter. Ons het verder gesoek en uitgevind in watter skool sy is. Ek het kontak gemaak met die skool en gevra dat hulle vir haar ‘n boodskap moet gee. Die terugvoer wat ek gekry het, het my gebreek. Hulle kon nie vir haar die boodskap gee nie, aangesien sy onder welsyntoesig was. Hulle het wel vir my die welsynwerker se nommer gegee en ek kon met haar kontak maak.
“Ek het dadelik die welsynwerker gekontak. Sy het met my dogter se ouma gepraat en hulle het ingestem dat sy my kon ontmoet. Op 5 April 2018 het ek en my vrou deurgery en by die welsynkantoor gewag. Vir die eerste keer in 14 jaar kon ek weer daardie blou ogies sien. Dit was nie soos wat ek dit wou hê nie. Sy het my net gesit en aankyk. Voor haar het ‘n onbekende man gesit, die een wat volgens stories haar seergemaak het, afgeknou en gemolesteer het. Met trane in my oë en ‘n hart wat in ‘n miljoen stukkies gebreek was, het ek daardie middag in my kar geklim en terug huis toe gery. Deur die leuens van haar oupa, ouma en haar ma, is van my ‘n monster en nie ‘n pa nie, gemaak. Hulle het so ver gegaan om haar van te verander sodat sy geen verbintenis met my moes hê nie.
“Vanaf die dag wat ek haar weer gesien het, tot nou, het ek haar weer drie keer gesien. Sy het ‘n naweek by ons kom kuier.” Ahoewel hy haar nou meer sien, is hulle verhouding nog nie ten volle herstel nie.
Volgens Psychology Today wil kinders tydens ‘n egskeiding ‘n gesonde en sterk verhouding met albei hulle ouers handhaaf. Hulle moet beskerm word teen die konflik van hul ouers. Sommige ouers skep egter ‘n situasie waar kinders ‘n keuse tussen hul ouers moet uitoefen.
In meer ernstige situasies bevorder dit die kind se verwerping van die ander ouer. In die ernstigste gevalle word kinders deur die een ouer gemanipuleer om die ander te haat, ondanks kinders se aangebore begeerte om deur albei ouers liefgehê te word en vir hulle lief te wees.
Die vervreemding van ouers behels die “programmering” van ‘n kind deur een ouer om die ander “geteikende” ouer te verneder in ‘n poging om die kind se verhouding met dié ouer te ondermyn. Dit is dikwels ‘n teken van die onvermoë van ‘n ouer om die konflik van geskeiding te hanteer en te fokus op die behoeftes van die kind. Sulke vernedering lei tot die emosionele verwerping van die kind en die verlies van ‘n bekwame en liefdevolle ouer uit die lewe van die kind.
Is jy in só situasie? Stuur ‘n e-pos na tania@find-it.co.za