NOORDWES. – Die familie van Donovan Marx het hul dank uitgespreek teenoor die polisie en veral polisiekaptein Bonita Dry ná die inhegtenisneming van twee verdagtes in verband met die gewelddadige plaasaanval op Marx. Sy familie doen intussen ‘n ernstige beroep op die publiek om vals gerugte oor sy beserings en herstel te staak.
Marlene Steyn du Toit, regsverteenwoordiger van Louise en Donovan Marx van Steyn du Toit Ingelyf, sê die familie waardeer die toewyding, harde werk en spoed waarmee die polisie die ondersoek hanteer. Besondere erkenning is aan kapt. Dry, die ondersoekbeampte, gegee vir haar professionaliteit, betrokkenheid en volgehoue pogings. Die aanval het op 28 Oktober plaasgevind, toe Marx op sy plaas in die Syferfontein-omgewing buite Ventersdorp geskiet en wreed aangerand is.
Die familie sê hulle is nog nie oor die identiteit van die twee verdagtes of die spesifieke getuienis teen hulle ingelig nie. Hulle beklemtoon dat ‘n inhegtenisneming nie gelykstaande is aan ‘n skuldigbevinding nie en dat die strafregtelike proses sy behoorlike verloop moet neem. Die familie doen ook ‘n beroep op die publiek en media om nie ongegronde spekulasie of onbevestigde inligting te versprei wat die voortgesette ondersoek of moontlike hofverrigtinge kan benadeel nie.
Louise en die familie se onmiddellike prioriteit bly Donovan se mediese behandeling en herstel. Hulle bedank almal wat deur gebede, ondersteuning en moontlike inligting gehelp het. Die familie het gesê hulle vertrou dat die ondersoek deeglik voortgesit sal word en dat geregtigheid deur die behoorlike regsproses sal geskied.
Die verklaring is op 31 Oktober uitgereik nadat twee inhegtenisnemings gemaak is. Nog drie verdagtes is Sondag in hegtenis geneem.
Marx is steeds in ‘n stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom. Sy familie is dankbaar vir sy vordering en die mediese sorg wat hy ontvang. Sy beserings bly egter ernstig en sy herstel sal tyd en verdere mediese behandeling verg. Volgens die familie is Donovan tydens die aanval geskiet, geskop, geslaan en met ‘n mes gesteek. Hy het ‘n skietwond in sy rug, waar ‘n koeël deur sy nier beweeg het, asook skade aan sy dikderm veroorsaak het, waarvan ‘n gedeelte chirurgies verwyder moes word. Hy het ook ‘n messteekwond aan sy been opgedoen. Albei sy ore is tydens die aanval traumaties geamputeer en kon nie chirurgies gered word nie. Die familie is meegedeel dat prostetiese oorrekonstruksie moontlik in die toekoms oorweeg kan word, afhangend van verdere mediese evaluering en sy herstel.
Die familie het dit uitdruklik duidelik gemaak dat bewerings op sosiale media dat Donovan se geslagsdele verwyder is, geheel en al onwaar is. Hulle doen ‘n beroep op mense en organisasies om dié vals bewerings onmiddellik te staak en nie verder te versprei nie. Die familie beklemtoon dat Donovan se werklike beserings reeds uiters ernstig is en vra dat sy menswaardigheid, privaatheid en die emosionele welstand van sy naasbestaandes gerespekteer word.
Lees die volledige verklaring hier onder:
31 Oktober 2026 | Potchefstroom
Familie van Donovan Marx verwelkom arrestasies en bedank SAPD vir toegewyde ondersoek
Louise Marx en die familie van Donovan Marx neem met dankbaarheid kennis van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se aankondiging dat twee verdagtes op Saterdag, 31 Oktober 2026, in hegtenis geneem is in verband met die gewelddadige plaasaanval op Donovan op 28 Oktober 2026.
Die familie spreek hul opregte waardering uit teenoor die SAPD en almal wat by die ondersoek betrokke is vir die toewyding, harde werk en spoed waarmee die saak tot dusver hanteer is.
Besondere dank en erkenning word gegee aan kaptein Bonita Dry, die ondersoekbeampte, vir haar onvermoeide betrokkenheid, professionaliteit en die erns waarmee sy die ondersoek benader. Die familie waardeer die lang ure en volgehoue pogings van die ondersoekspan om die feite vas te stel en diegene wat moontlik vir hierdie ernstige misdaad verantwoordelik is, voor die gereg te bring.
Die familie is op hierdie stadium nog nie ingelig oor die identiteit van die twee verdagtes of die spesifieke getuienis wat hulle met die aanval verbind nie.
Die familie besef dat ‘n arrestasie nie gelykstaande is aan ‘n skuldigbevinding of suksesvolle vervolging nie. Die strafregtelike proses moet sy behoorlike verloop neem.
Die familie vertrou dat die ondersoek deeglik voortgesit sal word, dat alle relevante getuienis behoorlik ingesamel en bewaar sal word en dat die saak uiteindelik op sy meriete deur ‘n bevoegde hof beslis sal word.
Hoewel die arrestasies ‘n betekenisvolle ontwikkeling is, bly die familie bewus daarvan dat daar nog belangrike ondersoek- en vervolgingstappe voorlê.
‘n BEROEP OP VERANTWOORDELIKE OPTREDE
Die familie herhaal hul beroep op die publiek en die media om hulle van ongegronde spekulasie, die verspreiding van onbevestigde inligting en enige optrede wat die voortgesette ondersoek of toekomstige hofverrigtinge kan benadeel, te weerhou.
Daar word ook versoek dat geen aannames oor die identiteit, betrokkenheid of skuld van enige persoon gemaak word voordat die relevante feite deur die bevoegde owerhede bevestig is nie.
Die familie sal voortgaan om deur hul regsverteenwoordigers met die SAPD saam te werk en sal nie op hierdie stadium kommentaar lewer oor moontlike getuienis of die besonderhede van die ondersoek nie.
DANKBAARHEID EN FOKUS OP DONOVAN SE HERSTEL
Louise en die familie is opreg dankbaar teenoor elke persoon wat deur gebede, ondersteuning, hulpverlening en die verskaffing van moontlike inligting tot die gemeenskaplike poging bygedra het.
Hulle onmiddellike prioriteit bly Donovan se mediese behandeling, herstel en welstand.
Die familie vra dat Suid-Afrikaners sal voortgaan om vir Donovan, sy mediese span en almal wat by die ondersoek betrokke is, te bid.
“Ons is opreg dankbaar vir die harde werk van die polisie en veral kaptein Bonita Dry. Ons besef dat daar nog ‘n lang pad voorlê, maar waardeer elke poging om te verseker dat die waarheid vasgestel word en dat geregtigheid deur die behoorlike regsproses geskied. Ons vra dat die ondersoekspan die nodige ruimte gegun word om hul werk deeglik af te handel.”
— Louise Marx en familie