Brekende Nuus
Nuus

Man veg om lewe ná plaasaanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp

Foto: Eesruf Veiligheids Groep Reaksie-span

NOORDWES. – Donovan Marx (50) veg in ’n hospitaal in Potchefstroom om sy lewe ná ’n buitengewoon wrede plaasaanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Marx is tydens die aanval gemartel en van agter in die rug geskiet. Dokters het Woensdagoggend steeds probeer om die koeël te verwyder.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP, sê die besonderhede van die marteling is so ontstellend dat die party dit nie openbaar wil maak nie. Volgens inligting wat tans beskikbaar is, het die aanval plaasgevind nadat ’n gesinslid kort voor 08:00 die plaas verlaat het om te gaan werk. Een van die plaaswerkers is na bewering deur die aanvallers vasgebind, maar kon later loskom en alarm maak. 

’n Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur, maar hulle was volgens die VF Plus se verklaring steeds op vrye voet. Hulle het na bewering met Marx se bakkie van die toneel gevlug. Die VF Plus betuig sy innige meegevoel en gebede aan Marx en sy naasbestaandes.

Die VF Plus sê plaasaanvalle gaan dikwels met ernstige geweld en marteling gepaard en doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om plaasaanvalle en -moorde te prioritiseer. Die party kritiseer ook die president se hantering van dié misdade.

Nuusflits het polisiekommentaar gevra. Kapt. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits gesê dat die polisie nog op die aktiewe misdaadtoneel teenwoordig is.