Bendes in die Kaap is weer op mevrou Smit se spoor. Sy sal self moet ingryp as sy haar doodgewone lewe wil behou. Die nuwe boek in die Mevrou Smit-reeks deur Elizabeth Wasserman, beloof om vol avontuur te wees.
Al wat sy wil wees, is doodgewoon. Maar dít is vir mevrou Smit nie so maklik beskore nie. Sy en Tomas is uiteindelik getroud, maar sy trek vinnig haar kop uit die huweliksknoop toe iemand uit haar verlede weer opduik om moeilikheid te maak. ’n Ou vriend van haar gewese man probeer ’n ooreenkoms tussen mevrou Smit en die polisie beding om die uitbreiding van die Kaapse onderwêreld te stuit, in ruil vir haar veiligheid. Dinge loop skeef en mevrou Smit moet bontstaan om te keer dat meer bloed vloei.
Oor die skrywer:
Elizabeth Wasserman is in 1964 in Klerksdorp gebore. Sy het in Koppies, êrens in die Vrystaat in Suid-Afrika, grootgeword. Sy is die skrywer van die gewilde Dogtective- en Anna Atom-reekse, asook Dingesfabriek en Kattemaai (laasgenoemde gepubliseer onder die naam Betsie Vos), en die “Elf dae”-reeks reisavonture vir jong volwassenes, alles in Afrikaans. “Die fantastiese mevrou Smit” is haar eerste roman vir volwassenes. Haar werk is bekroon met die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke, ’n ATKV Woordveertjie en ’n toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
As kind wou sy graag ’n skrywer word, maar het besluit dit is beter om eers ervarings op te doen om oor te kan skryf. Sy het medies aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en later in Mediese Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch gespesialiseer. Sy hou daarvan om te leer en om ander te onderrig, en was vir ’n aantal jare hoof van Mediese Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch voordat sy na die privaatpraktyk as patoloog verhuis het.
Elizabeth glo dat ’n mens ’n beter begrip van wetenskap en die natuur moet ontwikkel om ons ekosisteem – en mekaar – met sorg en respek te behandel.
Sy reis tans terwyl sy voortgaan om te skryf.
Lees ook:






One Response
Definitely, what a fantastic website and instructive posts, I surely will bookmark your blog.Best Regards!