Brekende Nuus
Nuus

Dr. Michael Mol kry sleutels terug danksy metropolisie

Foto: Dr. Michael Mol

WES-KAAP. – Dr. Michael Mol het konst. Langenhoven en sy kollegas van die metropolisie bedank nadat hulle sy Vespa-sleutels aan hom terugbesorg het. Hy het die sleutels Sondag tydens die kragmeting van die Stormers en Sharks by die Groenpunt-stadion per ongeluk in sy motorfiets gelos.


Michael is ‘n bekende mediese dokter, internasionale spreker, skrywer, uitvoerende vervaardiger, televisieaanbieder, sakekonsultant, stigterslid van Hello Doctor en ’n entrepreneur in gesondheidstegnologie. 

Hy vertel op sosiale media hulle was haastig om by die wedstryd te kom. Tydens die wedstryd, in die 70ste minuut, het hy besef hy het nie sy sleutels nie. Hy is terug na waar die Vespa geparkeer was en het ’n nota gevind waarop gestaan het dat hy sy sleutels in die motorfiets gelos het, met ’n telefoonnommer om te skakel. Mol het grappendergewys gesê die konstabel se handskrif is meer leesbaar as sy eie. Konst. Langenhoven en sy kollegas het kort daarna opgedaag en die sleutels aan hom terugbesorg nadat hy die sleutel in besonderhede beskryf het. 

Mol het die beamptes vir hul hulp geprys en gesê hulle verdien erkenning vir hul goeie daad. Hy het hulle gevra of hy die storie met ‘n foto op sosiale media kan deel. Hulle het toegestem indien hy JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, ook in sy plasing sou merk.