WES-KAAP. – Drie werknemers van die Cederberg-munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling is Vrydagoggend in ’n ongeluk op die Graafwater-pad na Clanwilliam beseer.
Anthony V Mlata, munisipale woordvoerder, sê ’n botsing tussen ’n munisipale bakkie en ’n vragmotor het by die afdraai na Vredendal en die N7 plaasgevind. Al drie werknemers is na die Clanwilliam-hospitaal geneem, waar hulle mediese behandeling ontvang. Volgens die munisipaliteit was alle nooddiense vinnig op die toneel. Die vragmotor het die pad na die N7 versper. Die oorsaak van die ongeluk sal ondersoek word. In ’n vroeëre verklaring het die munisipaliteit gesê die vragmotorbestuurder het aangedui dat hy nie die stopteken gesien het nie.
Die munisipaliteit sê hy is in kontak met die beseerde werknemers se families en sal ondersteuning bied waar nodig.