Drie mans is Dinsdag in afsonderlike polisie-operasies in Goodwood, Bellville en Langa in hegtenis geneem nadat honderde Mandrax-tablette en tik volgens die SAPD gevind is.
Lede van Operation Lockdown III het omstreeks 12:00 ‘n 38-jarige man op die hoek van Beaufort- en Voortrekkerweg in hegtenis geneem nadat 200 Mandrax-tablette volgens die polisie in sy besit gevind is.
Hy is by die Goodwood-polisiestasie aangehou en sal ná aanklagte in die Goodwood-landdroshof verskyn.
Verdere ondersoek het die polisie omstreeks 13:30 na die Tienie Meyer- informele nedersetting in Bellville gelei. Volgens die SAPD is 36 Mandrax-tablette en 13 sakkies tik by ‘n woning gevind.
‘n 18-jarige man is in verband met die vonds in hegtenis geneem. Hy sal ná aanklagte in die Bellville-landdroshof verskyn.
Verdagte ook in Langa vas
In ‘n afsonderlike voorval het lede van die teen-bende-eenheid inligting oor vermoedelike dwelmbedrywighede in Thabo Mbekiweg in Langa opgevolg.
Die polisie het ‘n deursoeking uitgevoer en volgens die SAPD op 200 Mandrax-tablette afgekom. ‘n 29-jarige man is vir die beweerde besit van dwelms in hegtenis geneem.
Hy sal ná aanklagte in die Bishop Lavis-landdroshof voorkom.
Altesaam 436 Mandrax-tablette en 13 sakkies tik is in die drie voorvalle gevind.
Bron: SAPD