VRYSTAAT. – Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het dringende hoëvlak-gesprekke met Vrystaatse munisipaliteite gevoer om die toenemende aantal voetgangersterftes in die provinsie aan te spreek.
Die RTMC se uitvoerende hoof, adv. Makhosini Msibi, het die vergadering Donderdag belê ná kommerwekkende statistieke wat wys dat padsterftes in die Vrystaat tussen Januarie en Junie vanjaar skerp toegeneem het in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Volgens die syfers is 315 padsterftes reeds vanjaar aangeteken, waarvan 105 voetgangers is. Dit beteken ’n styging van 23%, terwyl ander provinsies oor die algemeen afnames toon.
Die vergadering is deur senior verteenwoordigers van die munisipaliteite van Maluti-a-Phofung, Dihlabeng, Metsimaholo, Mangaung en Matjhabeng, asook provinsiale departemente van vervoer en samewerkende regering bygewoon.
Daar is beklemtoon dat sterftes veral oor naweke, langnaweke en in die winter toeneem, met meer as die helfte ongelukke wat op Vrydae en Saterdae plaasvind. Met die naderende openbare vakansiedag wat deur menige in ‘n langnaweek omskep sal word, is daar kommer dat sterftes in woongebiede verder kan toeneem.
Die vergadering het ooreengekom om dringend maatreëls in te stel om die situasie te verbeter, met streng monitering en gereelde verslagdoening aan nasionale owerhede.





