Dube Private Lodge-eienaar, slagoffer van plaasaanval, sterf

Lees ook :

Foto: Dube Private Lodge

NOORDWES. – Gert Scheepers, die eienaar van Dube Private Lodge, wat op 28 Februarie 2023 kritiek tydens ‘n plaasaanval beseer is, het nooit heeltemal van sy beserings herstel nie en Sondagaand gesterf. Scheepers is ernstig beseer toe hy en sy vrou Celia by die lodge aangeval is. Die lodge het sy afsterwe in ‘n sosialemediaplasing bekend gemaak.

“Met diepe hartseer deel ons die nuus van die afsterwe van Gert Scheepers, die toegewyde eienaar van Dube Private Lodge, wat gisteraand vreedsaam heengegaan het in die teenwoordigheid van sy geliefdes. Gert was ’n uitsonderlike mens wat ’n blywende indruk op almal gelaat het wat die voorreg gehad het om hom te ken. As toegewyde eggenoot, vader en vriend het hy liefde, sagmoedigheid en opregte goedhartigheid beliggaam. Sy onwrikbare toewyding aan sy gesin, gemeenskap en gaste was ’n inspirasie, en sy nalatenskap sal voortleef in die harte van almal wat hom geken het. As bestuurder en eienaar van die lodge was Gert passievol daaroor om uitsonderlike diens te lewer en onvergeetlike ervarings vir sy gaste te skep. Sy warmte, gasvryheid en bereidwilligheid om altyd ’n hand uit te steek, was ’n ware weerspieëling van sy medemenslikheid. Hy sal onthou word vir sy harde werk, nederigheid en die manier waarop hy ander altyd tuis laat voel het. Gert se geliefde vrou, lewensmaat sowel as besigheidsvennoot, wat elke dag getrou aan sy sy gestaan het, sal Dube Private Lodge in sy nagedagtenis voortsit – en voortgaan om die visie en waardes waarvoor Gert so bekend was, met trots te handhaaf. Ons gedagtes en gebede is met sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd. Mag Gert in vrede rus, en mag sy nalatenskap ons aanhou inspireer om liefde, goedhartigheid en deernis te versprei. ’n Gedenkdiens ter viering van Gert se lewe sal te gegewe tyd aangekondig word.”

Nuusflits het op 2 Maart 2023 berig dat Gert en Celia Scheepers, die eienaars van Dube Lodge, ‘n privaat wildreservaat buite Brits, in Noordwes, vroeg die Dinsdagaand in ‘n plaasaanval beseer is. Gert Scheepers is kritiek beseer. ‘n Onbekende aantal booswigte het drade geknip om toegang tot die perseel te verkry. Scheepers het in Februarie ‘n nuwe veiligheidsmaatskappy, PPS Sekuriteit, aangestel. ‘n Veiligheidswag is deurentyd op die perseel om die woning op te pas.

Die voorval het plaasgevind glo kort nadat Gert Scheepers ná ‘n dag se werk werkers na Letlhabile weggeneem het. Die veiligheidswag aan diens het onraad by die woning vermoed en drie skote geskiet. Die booswigte het weggekom met geld, ‘n selfoon en ‘n televisiestel. Scheepers is met ‘n ystervoorwerp aangerand. Sy kop was vergruis en hy het ernstige breinbeserings opgedoen. Celia Scheepers het probeer terugbaklei. Sy was aanvanklik in ‘n hospitaal in Brits, maar is daarna na dieselfde mediese fasiliteit as haar man geneem.

HEMS het hulle na die toneel op ‘n grondpad tussen ander lodges gehaas en die twee beseerdes aangetref. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en is behandel voordat beide na ‘n hospitaal in Brits geneem is. Die man is weens die erns van sy beserings na ‘n hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Nuusflits betuig medelye aan Scheepers se familie, vriende en werknemers.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief