Brekende Nuus
Nuus

PAS BEKEND: 4 vas ná dwelmlaboratorium naby Hartbeespoort ontdek is

Foto's: SAPD

NOORDWES. – Vier verdagtes is in hegtenis geneem en vier vuurwapens, waaronder ’n geweer en drie handwapens, is gekonfiskeer tydens ’n intelligensiegedrewe operasie by ’n plot in Scheerpoort, naby Hartbeespoortdam. Die polisie beskryf die misdaadtoneel as ’n multimiljoenrandse Mandrax-vervaardigingslaboratorium, hoewel die presiese hoeveelheid dwelms en straatwaarde nog bepaal moet word.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die operasie het vandag (Dinsdag) plaasgevind nadat die Hartbeespoortdam-polisie se misdaadvoorkomingseenheid inligting oor moontlike onwettige aktiwiteite op die eiendom ontvang het. Die inligting is met die Brits-polisie se misdaadintelligensie-eenheid en Hartbeespoortdam-polisie se K9-eenheid gedeel.

Polisiebeamptes het toegeslaan en drie vroue en ’n man op die perseel aangetref. Tydens ’n deursoeking is ’n dwelmlaboratorium ontdek, asook verwerkte dwelms, ’n mengsel vir die vervaardiging van dwelms en toerusting wat vermoedelik daarvoor gebruik is.

Die verdagtes wat aangekeer is, sluit ‘n Zimbabwiese man en nog drie vroue in. Hulle word aangekla vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook die handel in en vervaardiging van dwelms ingevolge die dwelmwet. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Brits-landdroshof verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort en die waarde van die gekonfiskeerde dwelms word nog bepaal.