GAUTENG. – Een verdagte is gister (Donderdag) dood in ’n skietery met die polisie tydens ’n operasie in Winchester Hills suid van Johannesburg. Vyf ander is in hegtenis geneem. ‘n Gekaapte voertuig en ontvoerde slagoffer is ook ongedeerd teruggevind.
Kapt. Tintswalo Sibeko, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in operasie is van stapel gestuur ná die kaping van ’n wit Isuzu-bakkie in Germiston waartydens die slagoffer glo ontvoer en gedwing is om saam met die verdagtes te ry. Die polisie se Taktiese Reaksiespanne het saam met misdaad-intelligensie en ander rolspelers gewerk.
Die verdagtes is by die N12 en Xavierweg opgespoor, waar bykomende voertuie geïdentifiseer is wat vermoedelik as begeleidingsvoertuie gebruik is. Twee van die verdagtes het te voet gevlug en het op polisie losgebrand, wat tot ’n oor-en-weer skietery gelei het. Een verdagte is tydens die voorval doodgeskiet.
Die polisie het ook ’n onwettige vuurwapen met ammunisie, asook die gekaapte Isuzu-bakkie, teruggekry. Beslag is ook gelê op drie ander voertuie – ’n Mitsubishi-SUV, ’n VW Polo en ’n Volvo – wat glo deur die groep gebruik is.
Verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord, kaping, ontvoering en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, word ondersoek.





