FRANKRYK. – Frankryk het Woensdag sy heel eerste geval van Ebola op nasionale grondgebied bevestig. Dit volg nadat ‘n dokter wat van ‘n humanitêre sending in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) teruggekeer het, positief vir die virus getoets het.
Dit is ook die eerste geval van die huidige uitbraak wat buite die Afrika-vasteland opgespoor is. Die dokter het in een van die gebiede in die DRK gewerk waar die virus aktief versprei. Hy was so te sê asimptomaties, met slegs hoofpyn, toe hy aan boord gegaan het vir sy terugvlug vanaf Kinshasa, voordat sy toestand effens vererger het. Die pasiënt is reeds by aankoms in Frankryk geïsoleer, nog voor die diagnose amptelik bevestig is en daarna onder streng biosekuriteitsmaatreëls na ‘n spesialiseenheid oorgeplaas.
Alle voorsorgmaatreëls is by sy aankoms in Frankryk geïmplementeer, om enige risiko van besmetting te voorkom, het die gesondheidsministerie gesê. Air France het die passasierslys reeds aan owerhede beskikbaar gestel, en kontakte word geïdentifiseer vir 21 dae se selfisolasie. Die pasiënt het ‘n “baie lae” virale lading en daar is geen aanduiding van plaaslike verspreiding nie.
Bronne: Al Jazeera, CNN, France 24, ABC News, The Washington Times





