Die eerste besending hoë-potensie entstofdosisse vir bek-en-klouseer (BEK) het by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe aangekom. Die minister van landbou, John Steenhuisen, het die besending in ontvangs geneem.
Hierdie besending van een miljoen dosisse entstof vul die bestaande maandelikse voorraad van die Botswana Vaccine Institute aan. Versendings uit Turkye word ook verwag. Nog vyf miljoen dosisse word teen die einde van Maart van Biogénesis Bagó verskeep. Dit vorm deel van ’n uitgebreide strategie om die huidige uitbrekings te bekamp.
Steenhuisen verduidelik dat hulle entstowwe in ander dele van die wêreld gaan soek het. “Ons het dit deur ’n soewereine proses versnel. Ons ontvang nou die eerste miljoen van daardie dosisse.”
“Daar sal volgende week nog ’n miljoen en ’n half wees, nog ’n miljoen daarna, en vanaf middel Maart sal ons vyf miljoen dosisse van Biogénesis Bagó alleen kan ontvang,” het hy gesê.
Hierdie versnelde invoer sal sorg dat Suid-Afrika nou beter toegerus is om die uitbrekings te bestuur, boere te ondersteun en die land se veesektor te beskerm.
Lees ook: Staatsrede: Bek-en-klouseer as nasionale ramp verklaar – 14 m. beeste moet ingeënt word
“Ons het verlede jaar die grootste aantal diere in ons geskiedenis ingeënt. Daar was twee miljoen entstofdosisse toegedien,” sê Steenhuisen. Hy sê voorts nadat die land se enigste enstofverskaffer in Desember vir ’n tyd moes sluit, het dit groot ontwrigting veroorsaak.
Die aankoms van die entstof bring broodnodige verligting vir boere. Volgens Steenhuisen is die land nou beter toegerus om op die uitbrekings te reageer.
Bron: Steenhuisen receives first batch of foot and mouth vaccines
https://www.sabcnews.com/sabcnews/steenhuisen-receives-first-batch-of-foot-and-mouth-vaccines/





