Brekende Nuus
Nuus

Egpaar in arres ná ontdekking van ongeregistreerde rehabilitasiesentrum

Foto's: SAPD

LIMPOPO. – ’n Man (59) en ’n vrou (58) is in hegtenis geneem nadat sowat 200 mense na bewering op ’n perseel by Waterval B in Siyabuswa aangehou is waar ’n ongeregistreerde rehabilitasiesentrum bedryf is.

Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die egpaar vanoggend (Vrydag) in hegtenis geneem ná ’n operasie wat Donderdag deur amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Nkangala-distrik uitgevoer is. Hulle het die perseel besoek as deel van inspeksies by onwettige rehabilitasiesentrums en die polisie se hulp ingeroep. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die sentrum sonder die vereiste registrasie bedryf is en nie aan toepaslike gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen het nie. Veertien mense moes tydens die operasie mediese behandeling ontvang.

Die egpaar staan tereg op aanklagte van ontvoering, die bedryf van ’n ongeregistreerde behandelingsentrum en die oortreding van gesondheids- en veiligheidsvoorskrifte. Verdere inhegtenisnemings of bykomende aanklagte word nie deur die polisie uitgesluit nie. Die twee sal na verwagting Maandag in die Mdutjana-landdroshof in Siyabuswa verskyn.