Elvis Blue se skoolgeldtoer het op 1 Junie afgeskop.
Wanneer jy jou Innibos-kaartjie by Ticketpro koop, kan jy ‘n skenking maak, of ook op Elvis Blue se sosialemediaplatforms. Alle geldelike donasies sal via die Atterbury Trust vir liefdadigheid geoudit en behartig word.
Die bekende sanger en liedjieskrywer, Elvis Blue van George, het op 1 Junie op ‘n fietsry-avontuur van 1 500 km na Mbombela vertrek, waar die Innibos Nasionale Kunstefees plaasvind.
Elvis doen die toer om geld vir kinders se opvoeding in te samel. Sy fietstoer het amptelik op 1 Junie om 07:30 aan die bopunt van Yorkstraat in George begin. Elvis se skoolgeldtoer word deur Innibos Nasionale Kunstefees ondersteun.
“Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het om mee skool toe te gaan nie,” het hy vroeër oor hierdie inisiatief gesê.
“My hart raak ook seer wanneer ouers nie vir hulle kinders kan sorg nie, of wanneer ‘n kind se omstandighede net onmoontlik lyk. Al kan ek net vir ‘n paar doen wat ek wens ek vir duisende kon doen, dink ek dis nog steeds die moeite werd.”
Hy samel geld in vir Life Community Services in George, die vertrekdorp van sy fietstoer, en die Daantjie Orphan Project in Mbombela, die dorp waar sy toer eindig. Beide organisasies spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders aan.

Sakeondernemings en die publiek kan betrokke raak deur geld te skenk by https://atterburytrust.org/shop/elvis-ry-vir-skoolgeld/.
Bronne:
George Herald, Innibos, Elvis Blue