Brekende Nuus
Nuus

Openbare dokumente veilig by Emalahleni-kantoor

Foto: Skermgreep van video-opname Zita Goldswain

MPUMALANGA. – Die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling het die publiek, motoriste en voertuighandelaars verseker dat dokumente, insluitend bestuurslisensies, veilig by die Piet Koornhof-gebou in Emalahleni bewaar word.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement, sê die versekering volg nadat foto’s en video’s van dokumente en lêers wat onbewaak by die kantore gelê het, glo op sosiale media versprei is . Die dokumente en onopgeëiste bestuurslisensies is van die Witbank-bestuurslisensie-en-toetssentrum na die Piet Koornhof-gebou verskuif, nadat die sentrum weens infrastruktuurprobleme deur die departement van arbeid gesluit is.

Volgens die departement was amptenare besig om die dokumente te verskuif en te orden toe die foto’s en video’s geneem is. Die departement sê die dokumente is veilig en sal vinnig optree indien enige oortreding in dié verband plaasvind.

Witbank News het die gebou besoek en ‘n video-opname van die dokumente gedeel.