LIMPOPO. – Twee Etiopiese burgers, Misganu Gethchwe (24) en Teshal Tumebo (20), het in die hof verskyn nadat vyf beweerde ontvoeringslagoffers gered is. Die buitelandse mans is glo halfnakend vir byna twee weke in ‘n kamer toegesluit, op die vloer aangehou en herhaaldelik aangerand terwyl hul families losgeld-eise ontvang het.
Twee ander verdagtes wat glo deel van dieselfde sindikaat uitmaak, is nog voortvlugtig en polisie-ondersoeke duur voort. Volgens polisie-woordvoerder kol. Malesela Ledwaba het die saak begin toe ‘n buitelandse man woonagtig in Giyani op 7 Mei melding gemaak het dat onbekende persone hom glo bel en dat hulle losgeld eis vir sy broer se vrylating.
Die Provinsiale Georganiseerde Misdaadeenheid het dadelik leidrade opgevolg, wat uiteindelik na ‘n spaza-winkel in die Valdezia Mambedi-dorpie gelei het. Tydens ‘n klopjag op 16 Mei het speurders vyf slagoffers in ‘n geslote kamer op die perseel aangetref. Hulle het vertel dat hulle glo afsonderlik in die Giyani-gebied ontvoer, in ‘n vragmotor gelaai en na die skuilplek vervoer is. Daar is hulle onder bewaking gehou, slegs met brood gevoed en fisiek mishandel terwyl hul ontvoerders druk op familielede uitgeoefen het om vir hul vrylating te betaal.
Onwettige sigarette, selfone en kontant is ook in beslag geneem. Die twee verdagtes het op 18 Mei op klagtes van ontvoering, die besit van onwettige sigarette en geldwassery in die Giyani- en Waterval-landdroshowe verskyn. Hulle is steeds in aanhouding en sal vandag in Waterval en op 25 Mei in Giyan in die hof verskyn.






