Marie Pretorius, ‘n 96-jarige inwoner van Kimberley, het onlangs 28 truie vir liefdadigheid geskenk.
Pretorius, wat in die Minerva Gardens-aftreeoord bly, het dié truie oor 12 maande gebrei. Sy het laasjaar 33 truie gebrei wat sy ook vir liefdadigheid geskenk het.
Pretorius bly vir die afgelope sewe jaar in Kimberley en was voorheen deel van ‘n liefdadigheidsgroep in Pretoria waar sy een jaar ‘n rekordgetal van 48 truie gebrei het.
Volgens Esté van der Merwe van Caritas, die nie-winsgewende organisasie, sal van die truie aan inwoners van die Jannie Brink-kinder-en-jeugsorgsentrum op Barkly-Wes geskenk word.
Pretorius vertel aan FiND iT dat sy haarself leer brei het en brei al sedert die dae toe mense baie gebreide klere gedra het en sy self van haar klere gebrei het. Pretorius koop die wol vir die truie uit haar eie sak en beskou dit as haar tiende elke maand.





