GAUTENG. – ’n Algehele afname van 5,2% in gemeenskapsaangemelde ernstige misdaad is in Gauteng aangeteken. Dit kom neer op meer as 5 000 minder sake as in dieselfde tydperk verlede jaar.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Tommy Mthombeni, het die misdaadstatistieke saam met rolspelers bekend gemaak en gesê dat die algehele tendens positief is, hoewel sekere misdaadsoorte steeds kommer wek. Volgens die statistiek het kontakmisdaad met 5,9% gedaal. Moord het met 15% afgeneem en poging tot moord met 3,2%. Die polisie sê die meeste moorde spruit voort uit argumente, misverstande, padwoede, provokasie, vigilante optrede en roof. Seksuele misdrywe het gemengde resultate getoon: verkragting het met 9,9% gedaal, maar seksuele aanranding het met 5,2% gestyg.
Die polisie se GKS-eenheid sê hulle bly intensief werk om oortreders voor die hof te bring en slagoffers te ondersteun. Gewapende roof, insluitend kaping, het met 17,1% gedaal. Ontvoering het egter met 1,6% toegeneem, hoofsaaklik gekoppel aan georganiseerde misdaad en voertuigkapings. Eiendomsverwante misdaad het met 9,7% afgeneem, terwyl ander ernstige misdaad soos kommersiële misdaad en winkeldiefstal ook ’n daling van 2,3% getoon het.
’n Positiewe ontwikkeling is dat misdade wat deur polisie-optrede opgespoor is met 12,5% toegeneem het. Dit sluit dwelmverwante misdaad, onwettige vuurwapenbesit en bestuur onder die invloed in. Tydens Operasie Shanela 2 is meer as 36 000 persone in hegtenis geneem en daar is op groot hoeveelhede vuurwapens, dwelms en gesteelde goedere beslag gelê.
Die polisie sê samewerking tussen wetstoepassing, gemeenskappe en ander rolspelers bly noodsaaklik om misdaad verder te verminder en veiliger gemeenskappe te bou.





